Wat is HARTSNAAR?Hartsnaar is Jannie du Toit en Christa Steyn se jongste musiekproduksie wat saam met drie talentvolle jong Afrikaanse kunstenaars aangebied word. Dit is ‘n musiekstorie wat handel oor musikante en hulle drome en gaan oor liedjieskrywers, sangers en musikante (jonk en oud), oor hulle ideale, ekstase en frustrasie, oor hulle lag en hulle huil. Elkeen het ‘n droom, maar drome bestaan in jou kop, jou hart, jou gees. Dit kan die begin van groot dinge wees, maar dit hang van jouself af. As jy die droom waar kan maak word jou lewe verander. Om drome werklikheid te maak is nie vir almal beskore nie, anders sou die lewe eentonig gewees het - en dit is een ding wat die lewe nié is nie. As die droom wel werklikheid begin word kom jy gou agter dat jy dikwels moet opoffer, en dat jy dan nog steeds nie sukses gewaarborg word nie. Wat wel gewaarborg word is die wye verskeidenheid ervaring wat die lewe die moeite werd maak. Saam met die deurwinterde Christa Steyn by die klawers en sanger Jannie du Toit, is Mariëtte Galjaard (perkussie en kitaar), Douw Steyn (kitaar) en Werner Spies (kontrabas). Die vyf musikante sing saam, speel hulle instrumente hartstogtelik en het die meeste van die musiek, wat wissel van ballades tot folk-rock, self geskryf. Die program word geregisseer deur die veelsydige Leon Ecroignard, wat ook soms vir Werner as kontrabas-speler instaan, aangesien Werner ook gereeld vir Gespanne Passasiers en Charl du Plessis speel.
|
